Kitsbiografie

Siegfried Eckleben is op 1 Mei 1944 in Weimar/Duitsland gebore. Sy familie het die Russiese Sone van die na-oorlogse Duitsland in 1949 verlaat en na die destydse Suidwes-Afrika geëmigreer, waar sy vader gedurende die Duitse koloniale tyd gebore is. Daar het hy opgegroei en in sy skoolopvoeding in Afrikaans verkry. Daarna  het hy elektrotegniese ingenieurswese aan die Universiteit van Kaapstadt gestudeer.

Nadat hy in etlike lande in suidelike Afrika, Noord- en Suid-Amerika, Australië en Europa as ingenieur gewerk en gelewe het, bly hy nou deeltyds noord van die ekwator  in ʼn steenhuisie op een van die Azores eilande – en in die suidelike hemisfeer in  ʼn woonstel in Namibië.

Die raaisel van die heelal en konsepte soos ewig en oneindig het hom van sy kinderdae af tegelykertyd aangelok en vrees ingejaag - en hom uiteindelik daartoe gedryf, die eerste deel van BÊNG te skryf, oor die ontstaan van die heelal en die ewolusie daarvan tot planeet Aarde. Die eienaardighede van die mense waarmee hy in verskeie lande te doen gekry het, het hom van die oorheersende belangrikheid van genetika oortuig - en hom die tweede deel van die boek laat skryf, oor die ewolusie van lewe op planeet Aarde tot op die huidige stadium. En dat die grootste probleem van ons planeet – die oorbevolking deur mense – wêreldwyd vernalatig word, sowel deur die owerheide as deur die meerderheid van mense.

Siegfried praat vyf tale en het artikels in Afrikaans, Duits Engels, en Portugees geskryf.

 

 

Siegfried se professionele lewensloop (CV) vind jy onder die Engelse biografie.